GENESIS 1

1 God skep alles

In die begin het God die ganse heelal geskep, die hemel daarbo en die aarde hieronder.

2 Maar die aarde was ’n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef.

3 Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so.

4 Die lig was vir God goed. Daarop het God die lig en die donkerte van mekaar geskei.

5 God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit alles het op die eerste dag gebeur.

6 God het beveel: “Laat daar skeiding kom tussen die waters!”

7 So het God die hemelkoepel gemaak wat die water bokant die aarde skei van die water onder op die aarde. Dit het alles net so gebeur.

8 God noem toe die blou koepel “hemel”. Dit het op die tweede dag gebeur.

9 God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur.

10 God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed.

11 Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur.

12 Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was.

13 Dit het op die derde dag gebeur.

14 God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal.

15 Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur.

16 So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak.

17 God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig,

18 die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was.

19 Dit het op die vierde dag gebeur.

20 God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.”

21 God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het.

22 God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.”

23 Dit het op die vyfde dag gebeur.

24 God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur.

25 So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed.

26 God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.”

27 God het die mens in

ooreenstemming

met Homself geskep;

volgens sy eie beeld

het God hulle geskep;

manlik en vroulik het Hy hulle

geskep.

28 God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde.”

29 Verder sê God: “Let op, Ek het aan julle al die plante wat saad dra, gegee en al die bome wat vrugte en saad gee. Dit is vir julle om van te eet.

30 Maar die groen gras en plante gee Ek aan al die diere op die aarde, die voëls in die lug en die klein diertjies wat op die aarde kruip.” Dit het so gebeur.

31 God het na sy handewerk gekyk en dit was uitstekend goed. Dit alles het God op die sesde dag gemaak.

GENESIS 2

1 So is die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarin is, voltooi.

2 Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het en Hy het op die sewende dag na al sy werk gerus.

3 God het ook die sewende dag geseën. Hy het bepaal dat dit afgesonder moet word van die ander dae omdat Hy op daardie dag gerus het nadat Hy sy skeppingswerk gedoen het.

4 Dit is dan die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde.

God maak die man en vrou

Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het,

5 was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die Here God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie.

6 Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak.

7 Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword.

8 Daarna het die Here God ’n tuin in Eden in die ooste geplant. Hy het die mens wat Hy geskape het daarin laat woon.

9 Die Here God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is.

10 ’n Rivier wat in Eden ontspring het, het water na die tuin gebring en daar in vier strome verdeel.

11 Die een, die Pison, loop om die hele land Gawila. Dis die plek wat ryk is aan goud.

12 Die goud is van hoogstaande gehalte en daar is ook balsem en oniks.

13 Die tweede, die Gihon, vloei om die hele land Kus.

14 Die derde een, die Tigris, loop oos van Assirië verby. Die vierde is die Eufraat.

15 Die Here God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg.

16 Maar die Here God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet,

17 maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”

18 Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.”

19 Toe het die Here God uit die grond al die verskillende soorte diere en voëls gevorm. Daarop neem Hy hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sou noem. En die mens het vir elkeen ’n naam gegee,

20 vir al die mak diere, die voëls en wilde diere. Hy kon egter onder hulle nie een kry wat soos hy is en vir hom ’n metgesel kon wees nie.

21 Toe het die Here God die mens baie diep laat slaap. Terwyl hy slaap, vat Hy een van die mens se ribbebene en vul die plek weer op met vleis.

22 Van die ribbebeen maak die Here God toe ’n vrou en bring haar na die mens toe.

23 “Uiteindelik is dit die regte metgesel!” sê die mens. “Sy is regtig deel van my. Sy sal ‘vrou’ genoem word, want sy is uit die man geneem.”

24 Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

25 Alhoewel die mens en sy vrou sonder klere was, was hulle nie skaam vir mekaar nie.

GENESIS 3

Die mens oortree God se verbod

1 Die slang was listiger as al die diere wat die Here God gemaak het. “Is dit regtig so?” vra hy vir die vrou. “Het God regtig gesê julle mag niks van die vrugte in die tuin eet nie?”

2 “Natuurlik mag ons van die vrugte eet,” sê die vrou.

3 “Dis net van die vrugte van die boom in die middel van die tuin wat ons nie mag eet nie of selfs aan raak nie, anders sal ons sterf.”

4 “Julle sal nie sterf nie!” sê die slang.

5 “God weet dat julle oë sal oopgaan wanneer julle daarvan eet. Julle sal dan net soos God wees en weet van goed en kwaad.”

6 Dit het die vrou oortuig. Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ’n mens verstandig en slim te maak. Sy pluk ’n vrug van die boom, eet daarvan en gee vir haar man by haar; en hy het ook geëet.

7 Toe gaan hulle oë werklik oop en besef hulle dat hulle sonder klere is. Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak.

8 Teen die aand hoor hulle hoe die Here God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome.

9 Die Here God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?”

10 Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.”

11 “Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?” vra die Here God. “Het jy dan van die boom geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?”

12 “Ja,” erken die mens, “dit was die vrou wat U aan my gegee het wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet.”

13 Daarop vra die Here God vir die vrou: “Hoe kon jy so ’n ding doen?”

“Die slang het my bedrieg,” antwoord sy. “Dis hoekom ek geëet het.”

14 Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere op die aarde. Op jou pens sal jy seil en stof sal jy eet so lank as wat jy lewe.

15 Van nou af sal jy en die vrou vyande wees. Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop inslaan en jy sal hom noodlottig aan die hakskeen byt.”

16 Vir die vrou sê Hy: “Ek sal jou swangerskap moeilik maak; met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heers.”

17 Vir die mens sê Hy: “Jy het jou deur jou vrou laat ompraat en van die vrugte geëet wat Ek jou verbied het om te doen. Daarom vervloek Ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met swaarkry sukkel om ’n bestaan daaruit te maak.

18 Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer en jy sal van die plante van die veld eet.

19 Jou hele lewe lank, tot die einde van jou dae, sal jy met moeite werk om iets te hê om te eet. Aan die einde van jou lewe sal jy weer terugkeer na die grond waaruit jy geneem is. Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word.”

20 Die mens het sy vrou Eva genoem omdat sy die moeder sou word van alle mense op die hele aarde.

21 Toe het die Here God vir die mens en sy vrou klere van vel gemaak en hulle dit laat aantrek.

22 Daarna sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hulle ook weet van goed en kwaad. Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!”

23 Die Here God het daarom die mens uit die Tuin van Eden weggestuur om die grond te gaan bewerk waaruit hy geneem is.

24 Nadat die Here God hulle uit die tuin verban het, het Hy gerubs oos van Eden aangestel om met ’n vlammende swaard, wat heen en weer beweeg, die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

GENESIS 4

Kain en Abel

1 Die mens het by sy vrou, Eva, geslaap en sy het swanger geword. Sy het geboorte gegee aan Kain. Sy sê toe: “Met die hulp van die Here het ek ’n man voortgebring!”

2 Daarna het sy geboorte gegee aan sy broer Abel.

Toe hulle groot was, het Abel ’n veeboer geword en Kain ’n landbouer.

3 Toe oestyd aanbreek, het Kain uit die opbrengs van sy landerye ’n offer vir die Here gebring.

4 Abel het die beste uit sy lammers, die eerstelinge van die seisoen, en van hulle vet as offer gebring. Die Here het Abel en sy offer aanvaar,

5 maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig.

6 “Hoekom is jy so kwaad?” vra die Here vir hom. “Hoekom hang jou gesig so?

7 Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde hurk by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.”

8 Kain het met sy broer Abel gepraat en terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgeslaan.

9 Daarna vra die Here vir Kain: “Waar is Abel jou broer?”

“Ek weet nie!” is sy skerp antwoord. “Ek is mos nie sy oppasser nie!”

10 Maar die Here sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang? Die bloed van jou broer roep na My daar waar dit op die grond geval het!

11 Daarom word jy verban van die grond wat jou broer se bloed uit jou hand ontvang het.

12 Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

13 Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra!

14 U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!”

15 Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

Kain se familie

16 Kain het van die Here God se teenwoordigheid af weggegaan en in die land Nod, oos van Eden, gaan woon.

17 Kain het by sy vrou geslaap, sy het swanger geword en geboorte gegee aan Henog. Kain het ’n stad gebou en dit vernoem na sy seun Henog.

18 Henog was die pa van Irad. Irad was die pa van Megujael. Megujael was die pa van Metusael. Metusael was die pa van Lameg.

19 Lameg het met twee vroue, Ada en Silla, getrou.

20 Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorvader van die veeboere wat in tente gewoon het.

21 Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van die musikante wat op die harp en die fluit gespeel het.

22 Tubal-Kain was die seun van Silla. Hy was die voorvader van die metaalwerkers wat instrumente uit koper en yster gemaak het. Sy suster se naam was Naäma.

23 Op ’n dag sê Lameg vir sy twee vroue Ada en Silla:

“Vroue van Lameg,

hoor wat ek vir julle sê!

Luister na wat ek sê.

’n Man wat my wond, maak ek dood,

ja, selfs ’n jong man wat my aanval.

24 Kain se dood

sal sewe maal gewreek word,

maar Lameg s’n 77 maal!”

25 Adam het weer by sy vrou geslaap en sy het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Set genoem, want sy het gesê: “God het vir my ’n ander seun gegee in die plek van Abel wat deur Kain doodgemaak is.”

26 Ook Set het ’n seun gehad wat hy Enos genoem het. In hierdie tyd het die mense die Here begin aanbid.

GENESIS 5

Adam se afstammelinge tot by

Noag

1 Die volgende is ’n lys van Adam se afstammelinge. Toe God mense geskep het, het Hy hulle na sy beeld gemaak.

2 Hy het hulle manlik en vroulik gemaak. Hy het hulle toe “mens” genoem en hulle geseën.

3 Toe Adam 130 jaar oud was, is sy seun Set gebore. Hy was die ewebeeld van sy pa.

4 Ná die geboorte van Set het Adam nog 800 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

5 Hy was 930 jaar oud toe hy dood is.

6 Toe Set 105 jaar oud was, is sy seun Enos gebore.

7 Ná die geboorte van Enos het Set nog 807 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

8 Hy was 912 jaar oud toe hy dood is.

9 Toe Enos 90 jaar oud was, is sy seun Kenan gebore.

10 Ná die geboorte van Kenan het Enos nog 815 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

11 Hy was 905 jaar oud toe hy dood is.

12 Toe Kenan 70 jaar oud was, is sy seun Mahalalel gebore.

13 Ná die geboorte van Mahalalel het Kenan nog 840 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

14 Hy was 910 jaar oud toe hy dood is.

15 Toe Mahalalel 65 jaar oud was, is sy seun Jered gebore.

16 Ná die geboorte van Jered het Mahalalel nog 830 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

17 Hy was 895 jaar oud toe hy dood is.

18 Toe Jered 162 jaar oud was, is sy seun Henog gebore.

19 Ná die geboorte van Henog het Jered nog 800 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

20 Hy was 962 jaar oud toe hy dood is.

21 Toe Henog 65 jaar oud was, is sy seun Metusalag gebore.

22 Ná die geboorte van Metusalag het Henog nog 300 jaar in ’n noue verhouding met God gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

23 Hy het altesaam 365 jaar gelewe.

24 Hy het sy lewe lank baie naby aan God gelewe. Toe het hy verdwyn, want God het hom weggeneem.

25 Toe Metusalag 187 jaar oud was, is sy seun Lameg gebore.

26 Ná die geboorte van Lameg het Metusalag nog 782 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

27 Hy was 969 jaar oud toe hy dood is.

28 Toe Lameg 182 jaar oud was, is sy seun Noag gebore.

29 Lameg het hierdie seun Noag genoem, want hy het gesê: “Hy sal ons opbeur in die vermoeiende handewerk wat ons moet doen op die grond wat die Here vervloek het.”

30 Ná die geboorte van Noag het Lameg nog 595 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.

31 Hy was 777 jaar oud toe hy dood is.

32 Toe Noag 500 jaar oud was, het hy drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet.

GENESIS 6

Die verval van die mensdom

1 Mettertyd het die mense op die aarde baie vermeerder. Daar is ook dogters vir hulle gebore.

2 Die godeseuns het opgemerk hoe mooi die dogters van die mense was. Hulle het van hulle as vroue gekies.

3 Toe sê die Here: “My gees sal nie vir altyd in die mensdom wees nie, want hulle is sterflik. Voortaan sal hulle leeftyd hoogstens 120 jaar wees.”

4 In daardie tyd en ook daarna, was daar reuse op die aarde, want telkens wanneer die godeseuns gemeenskap met die vroue uit die menslike geslag gehad het, is kinders gebore wat helde geword het en wat in die ou legendes vermeld word.

5 Die Here het die omvang van die boosheid van die mensdom op aarde raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was.

6 Die Here was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep bedroef.

7 Daarom sê die Here: “Ek sal die mensheid wat Ek gemaak het heeltemal uitwis van die aarde. Saam met hulle sal Ek ook al die diere, klein en groot, asook die voëls vernietig, want Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.”

8 Maar die Here was Noag goedgesind.

Die opdrag aan Noag

9 Wat volg, is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n opregte man, die enigste onberispelike persoon in daardie tyd. Hy het God se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad.

10 Noag het drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet.

11 Teen hierdie tyd was die aarde volgens die oordeel van God korrup en vol geweld.

12 God het al hierdie korrupsie in die wêreld gesien. Oral waar Hy gekyk het, was daar geweld en bederf.

13 Daarop sê God vir Noag: “Ek het besluit om alle lewende wesens te vernietig, want dis as gevolg van hulle dat die aarde vol geweld is. Ek gaan hulle almal verseker tot niet maak.

14 Jy moet ’n groot ark van goferhout maak met verskillende vertrekke binne-in. Verseël dit binne en buite met teer.

15 Dit moet 135 meter lank, 22,5 meter breed en 13,5 meter hoog wees.

16 Voorsien dit van ’n dak waarvan die nok 45 sentimeter hoog is. Dit moet drie verdiepings hê en ’n deur aan die kant.

17 “Let op! Ek gaan vloedwaters oor die aarde laat kom wat elke lewende wese onder die son sal uitwis. Alles op aarde sal doodgaan.

18 Maar met jou maak Ek ’n verbond. Jy, jou vrou, jou seuns en hulle vroue moet ingaan in die ark.

19 Van elke soort dier moet jy ’n paar – ’n mannetjie en ’n wyfie – in die ark besorg sodat hulle saam met jou die vloed kan oorleef.

20 Twee van elke soort voël en dier, klein en groot, sal na jou toe kom. Jy moet hulle in die ark aan die lewe hou.

21 Maak seker dat jy genoeg kos inlaai vir jou gesin en vir al die diere.”

22 Noag het presies gemaak soos God hom beveel het.

GENESIS 7

Die vloedwaters oordek die

aarde

1 Die Here het vir Noag gesê: “Jy en jou gesin moet in die ark ingaan, want onder al die mense op die aarde is dit jy alleen wat opreg lewe.

2 Jy moet ook sewe mannetjies en sewe wyfies van elke diersoort wat Ek goedgekeur het as geskik om te eet en te offer saamvat. Neem ook een mannetjie en een wyfie uit elk van die ander diersoorte.

3 So ook moet jy sewe mannetjies en sewe wyfies van elke voëlsoort neem om hulle voortplanting op die aarde te verseker.

4 Oor sewe dae sal Ek dit vir 40 dae en 40 nagte aanmekaar laat reën sodat alles wat Ek geskep het, van die aarde uitgewis word.”

5 Noag het die opdrag van die Here uitgevoer.

6 Hy was 600 jaar oud toe die vloed begin het.

7 Hy, sy vrou, sy seuns en hulle vroue het aan boord gegaan om die vloed te oorleef.

8 Saam met hulle was daar diere van alle soorte: dié wat geëet en vir offers gebruik kon word, dié wat nie daarvoor goedgekeur was nie, asook van al die voëls en ander klein diertjies wat op die aarde kruip.

9 Hulle het in pare, mannetjies en wyfies, na Noag by die ark gekom net soos God vir Noag beveel het.

10 ’n Week later het die groot vloed losgebreek en die aarde oordek.

11 Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort

12 vir 40 dae en nagte aanmekaar.

13 Op daardie selfde dag het Noag en sy vrou, saam met sy seuns, Sem, Gam en Jafet, asook hulle vroue, aan boord gegaan.

14 Saam met hulle op die ark was daar mak diere, wilde diere, klein kruipende diere, voëls en vlieënde insekte van alle soorte.

15 Van alles wat leef, het twee-twee saam met Noag op die ark gegaan.

16 Dit was mannetjies en wyfies soos God beveel het. Toe het die Here die deur van die ark agter hulle toegesluit.

17 Dit het 40 dae lank gereën en soos die waters vermeerder het, het dit die ark hoog bokant die grond opgelig.

18 Die water het al meer geword en al hoër gestyg en die ark het daarop begin dryf.

19 Die water het selfs so hoog gestyg dat die hoogste berge op die aarde onder water was.

20 Die water het tot byna sewe meter bokant die hoogste berg gestyg.

21 Alles wat op die aarde lewe, het vergaan – die voëls, mak diere, wilde diere, die klein kruipende diere en al die mense.

22 Alles wat asemhaal op die droë grond het doodgegaan.

23 Elke lewende wese op die aarde is uitgewis – mense, groot en klein diere en voëls. Hulle is almal dood. Net Noag en hulle wat saam met hom in die ark was, het oorleef.

24 Die aarde was 150 dae lank onder water.

GENESIS 8

Die vloedwaters sak

1 Maar God het gedink aan Noag en al die mense en diere by hom in die ark. Hy het ’n sterk wind oor die water laat waai en die watervloed het begin afneem.

2 Die onderaardse waterbronne het opgehou om uit te borrel en die stortreën het bedaar.

3 Geleidelik het die vloedwaters gesak. Na 150 dae het die watervlak só gesak

4 dat die ark op die Araratberge vasgesit het, vyf maande nadat dit begin reën het.

5 Twee en ’n halwe maande later het ander bergspitse sigbaar geword namate die water gesak het.

6 40 dae later het Noag die venster wat hy in die ark gemaak het, oopgemaak

7 en ’n kraai uitgelaat. Die kraai het heen en weer gevlieg totdat die aarde droog was.

8 Daarna het hy ’n duif uitgelaat om te kyk of daar enige droë grond was.

9 Maar die duif kon nêrens gaan sit nie omdat die water nog te hoog was. Daarom het dit na die ark toe teruggekom. Noag het sy hand uitgesteek, die duif gevang en dit weer in die ark ingebring.

10 Sewe dae later het Noag weer die duif uitgelaat.

11 Teen die aand was die duif weer daar met ’n vars olyfblaar in die bek. Noag het besef dat die water nou al heelwat gesak het.

12 ’n Week later het hy nog ’n keer die duif uitgelaat, maar hierdie keer het dit nie na hom toe teruggekom nie.

13 Toe Noag 601 jaar oud was, tien en ’n half maande nadat die vloed begin het, het Noag die luik van die ark oopgemaak en gesien dat die aarde besig was om droog te word.

14 Nog twee maande het verbygegaan en uiteindelik was die aarde droog genoeg.

15 Toe sê God vir Noag:

16 “Gaan nou uit die ark, jy en jou gesin.

17 Laat al die diere en voëls uit sodat hulle kan vermeerder en oor die aarde versprei.”

18 Noag en sy vrou, sy seuns en hulle vroue het toe uit die ark gegaan,

19 asook al die verskillende soorte diere en voëls.

God se verbond met Noag

20 Noag bou toe ’n altaar vir die Here en offer daarop van die diere en voëls wat vir hierdie doel bestem was.

21 Die Here het die offer aanvaar en vir Homself gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek weens die mens se oortredings nie. Immers, die mens se gedagtes is boos van sy jeug af. Ek sal nooit weer al die lewende wesens so vernietig nie.

22 So lank as die aarde bestaan, só lank sal saaityd en oestyd, koue en hitte, winter en somer, dag en nag bly voortbestaan.”

GENESIS 9

1 God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Julle moet meer word deur baie kinders te hê en so die aarde te vul.

2 Al die diere, groot en klein, asook al die voëls en visse sal vir julle bang wees. Ek stel hulle tot julle beskikking.

3 Benewens die groen plante mag julle hulle ook eet.

4 Maar geen dier mag geëet word sonder dat die lewensbloed eers uitgeloop het nie.

5 Wanneer ’n mens doodgemaak word, eis Ek rekenskap, of dit nou ’n dier is of ’n medemens wat dit veroorsaak. Elkeen wat sy medemens doodmaak, moet met die dood gestraf word.

6 Iemand wat ’n mens doodmaak, moet beslis self ook doodgemaak word omdat God die mens na sy beeld gemaak het.

7 Soos reeds gesê, moet julle meer word deur baie kinders te hê sodat julle die aarde kan vul.”

8 God het met Noag en sy seuns gepraat:

9 “Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag,

10 asook met die diere wat saam met julle is: die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die ark gekom het.

11 Ek onderneem dat Ek nooit weer ’n vloed sal stuur om alles wat lewe dood te maak en die aarde te verwoes nie.”

12 God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld.

13 Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde.

14 Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn,

15 sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie.

16 “Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.”

17 God het dit vir Noag herhaal: “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.”

Noag en sy seuns

18 Sem, Gam (die pa van Kanaän) en Jafet, die drie seuns van Noag, het saam met hulle pa uit die ark gekom.

19 Al die mense in die wêreld stam af van hierdie drie seuns.

20 Ná die vloed het Noag die grond bewerk en ’n wingerd geplant.

21 Op ’n dag het Noag van die wyn gedrink wat hy gemaak het, dronk geword en sonder klere in sy tent gelê.

22 Gam, Kanaän se pa, het dit gesien en buite vir sy broers gaan vertel.

23 Sem en Jafet vat toe ’n kledingstuk en hou dit agter hulle skouers, loop agteruit in die tent en bedek hulle pa. Hulle het nie agtertoe gekyk nie omdat hulle nie hulle pa in daardie toestand wou sien nie.

24 Toe Noag weer nugter was, kom hy agter wat sy jongste seun gedoen het

25 en sê:

“Vervloek is Kanaän!

Hy sal die slaaf wees

van die slawe van sy broers.”

26 Noag sê ook:

“Prys die Here,

die God van Sem!

Kanaän sal Sem se slaaf wees.

27 God sal vir Jafet ruimte gee

om in te woon,

en ook vrede met Sem;

en Kanaän sal ook

sy slaaf wees.”

28 Ná die vloed het Noag nog 350 jaar gelewe.

29 Hy was 950 jaar oud toe hy dood is.

GENESIS 10

1 Die volgende is ’n lys van die nakomelinge van Noag se drie seuns, Sem, Gam en Jafet, ná die vloed.

Die nakomelinge van Jafet

2 Die nageslag van Jafet was Gomer, Magog, die Mediërs, die Grieke, Tubal, Mesek en Tiras.

3 Die nageslag van Gomer was Askenas, Rifat en Togarma.

4 Die nageslag van die Grieke was Elisa, Tarsis, die Kittiërs en die Rodaners.

5 Hulle nageslag het seevaarders in verskillende lande geword. Elke stam het sy eie taal gehad.

Die nakomelinge van Gam

6 Die nageslag van Gam was Kus, Egipte, Put en Kanaän.

7 Die nageslag van Kus was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Die nageslag van Rama was Skeba en Dedan.

8 Een van Kus se nakomelinge was Nimrod, die eerste krygsman op aarde.

9 Hy was ’n voortreflike jagter voor die Here. Sy naam het soos ’n spreekwoord geword en mense het gesê: “Soos Nimrod, die beroemde jagter voor die Here.”

10 Met die stede Babel, Erek, Akkad en Kalne het hy die grondslag vir sy ryk in Sinar gelê.

11 Daarvandaan het hy sy ryk na Assirië toe uitgebrei. Daar het hy Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou.

12 Tussen Nineve en Kalag het hy ook Resen, wat ’n groot stad was, gebou.

13 Egipte was die voorvader van die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs, Naftoagiete,

14 Patrosane, Kaslugiete en Kaftoriete uit wie die Filistyne afgestam het.

15 Kanaän se oudste seun was Sidon, die voorvader van die Sidoniërs. Kanaän was ook die voorvader van die Hetiete,

16 Jebusiete, Amoriete, Girgasiete,

17 Hewiete, Erekiete, Siniete,

18 Arwadters, Semariërs en Hamatiete.

19 Mettertyd het stamme van die Kanaäniete versprei en het die grense vanaf Sidon tot by Gasa gestrek op pad na Gerar toe en in die rigting van Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim, by Lesa.

20 Dit was die nakomelinge van Gam, aangedui volgens hulle stamme, tale, onderskeie gebiede en nasies.

Die nakomelinge van Sem

21 Vir Sem, wie se ouer broer Jafet was, is daar ook kinders gebore. Sem was die voorvader van die Hebreërs.

22 Sem se nageslag was Elam, Assur, Arpaksad, Lud en Aram.

23 Die nakomelinge van Aram was Us, Gul, Geter en Mas.

24 Arpaksad was die voorvader van Selag en Selag was die voorvader van Heber.

25 Heber het twee seuns gehad. Die eerste was Peleg (“verdeling”), want in daardie tyd is die mense verdeel en het hulle oor die aarde versprei. Sy broer se naam was Joktan.

26 Joktan was die voorvader van Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag,

27 Hadoram, Usal, Dikla,

28 Obal, Abimael, Skeba,

29 Ofir, Gawila en Jobab.

30 Die nakomelinge van Joktan het gewoon in die gebied vanaf Mesa na die oostelike heuwels van Sefar.

31 Dit was die nakomelinge van Sem, aangedui volgens hulle stamme, tale, onderskeie gebiede en nasies.

32 Dit is die geskiedenis oor die afstammelinge van Noag se seuns, aangedui volgens hulle afstamming en onderskeie nasies.

Dit is die stamme waaruit die nasies wat ná die vloed oor die aarde versprei het, afkomstig was.